Results 1 to 12 of 12
  1. #1
    Join Date
    Jan 2010
    Location
    Pretoria-Oos
    Age
    40
    Posts
    833
    Thanked: 0

    Default Botswana Reisverslag Junie 2011

    Nagte: 4
    Totale afstand 1 500km
    Voertuie: 2x Defender 110's, 2001- en 2002- modelle
    Mense : Dawie, Hesca, Marius en Herman
    Dorpe: Pretoria, Nylstroom, Vaalwater, Ellisras, Mahalapye, Palapye, Serowe, Serule, Selebi-Phikwe, Bobonong, Alldays, Swartwater, Tom Burke, Potgietersrus
    Kampe: Khama Rhino Sanctuary, Molema camp (Tuli)

    Hierdie was ons eerste trip na Botswana. Dit was vir ons almal 'n 'verkennings' trip - om te sien hoe die land is, wat ‘n mens kan kry, wat nie - en ons was aangenaam verras!

    Donderdag 16de
    Staan 02:30 op en pak die koue goed in; die ander goed was die vorige aand reeds gelaai. Darem ook 'n Red Bull of twee net om ons wakker te kry.

    Ry tot by die Total garage wat oor die N1 gaan, buite Pretoria, waar ons vir Marius-hulle in die ander landy kry. Ons ry toe van daar af saam tot by Nylstroom waar ons van die N1 afdraai na Ellisras toe. Daar is baie padwerke en Stop/Ry-plekke op die pad vir die eerste stuk.

    Ons kom 07:30 op Ellisras aan - die Wimpy is nog toe, die hele dorp slaap nog - baie swak vir die 'hoofstad' van die bosveld. Van daar af ry ons Stockpoort toe op 'n goeie teerpad, sien baie vlakvarke langs die pad en ook 'n steenbokkie en 'n paar rooibokke.

    By die grens gekom, is daar 'n groep jagters en ander vakansiegangers voor ons, maar ons paspoorte word gou gestempel en ons is oor die brug in Botswana in.

    Aan die ander kant van die grensspuit hulle die Landys se wiele met gif teen bek en klou-seer en ons moet uitklim en in ‘n bak met gif in trap sodat ‘n mens se skoene ook ontsmet is. Die paspoort stempel en P40 'road-tax' betaal aan Botswana se kant gaan ook vinnig en ons is deur. Die regeringsamptenare is vriendelik en hulpvaardig.

    Van Stockpoort af ry ons na Mahalapye toe - 'n goeie grondpad wat onlangs geskraap is, kan darem so 100km/h stoot. Daar is baie beeste en donkies langs en in die pad. Op Mahalapye ry ons na die Spar toe en koop margarien wat ons vergeet het en ek trek geld met my VISA kaart by ‘n FNB ATM om te toets, dit werk gelukkig. Die dorp is skoon en die verkeer is lig.

    Van Mahalapye af Palapye toe, daar koop ek 'n Orange simkaart, dat ons darem terug SA toe kan bel. Daar is wel net sein in die dorpe, verder niks. Daar is 'n steenkoolmyn by Palapye en daar word 'n massiewe kragstasie langs hom gebou. Een van die dae voer ons krag in van Botswana af.

    Volgende dorp is Serowe waar ons eers na 'n slaghuis soek en nie kry nie, en toe maar by die Spar vleis koop - R80/kg vir fillet en R60/kg vir rump (wat eintlik duur is vir Botswana - by sommige plekke kry ‘n mens fillet vir R30/kg). Die pryse en tipe van die ander produkte by die Spar is maar dieselfde as in Suid-Afrika.

    Die Khama's kom van Serowe af en daar is 'n groot hospitaal en regeringsgeboue.

    20 km buite Serowe is Khama Rhino Sanctuary net na die dorpie Paje - die dorpie waar ons in Zanzibar gebly het se naam was ook Paje. By Khama se ontvangs is 'n verwarmer volstoom aan die gang en die mense het warm klere aan - terwyl ons in kortmouklere rondloop. Hulle is aievriendelik en ons betaal vir die twee nagte. Die padjies na die kampplek toe is sand en nou, maar mens gly so lekker met die Landy in die dik stukke.

    By Paje is daar 'n weermagbasis - al die soldate ry met Landys rond, maar hulle waai nie terug nie. Hulle pas die renosters by Khama op - daar is wagtorings op die reservaat se grense.

    Die kampplekke is lekker afgesonder van mekaar, elkeen onder 'n groot Kanniedood boom. Daar is 'gewone' braaiers en 'n stuk sement op die grond om op vuur te maak by elkeen. Kamp opslaan was vinnig en ons het toe 'n draai gery na die panne in die noordelike deel - 'n hele paar renosters gesien, ook gemsbokke, springbokke, ‘n steenbokkie en koedoes. In 'n nou bospadjie sien ons 'n bakkie staan en mense wat by die venster uitkyk, toe ons langs hulle kom sê die ou in 'n erge Aussie-aksent - "ELAND BUCK!", ek verstaan nie en se "HUH?!" - en hy wys toe na twee elandbulle so ‘n entjie weg in die bos.

    Die aand maak ons 'n fillet tussen die 4 van ons gaar - Marius mag maar fillet braai - ek sou dit nie so lekker kon gaarmaak nie, bros buite, sappig binne - dis maklik om 'n fillet te droog te braai. Ons eet dit saam met knoffelbrood en buns wat ons in Serowe gekoop het. Sodra die son sak raak dit VREK koud, gelukkig het Hesca vir my 'n -5 grade-slaapsak gekoop vir my verjaarsdag. Marius sê ‘n mens moet eintlik met kortmouklere slaap sodat jou liggaamshitte die slaapsak warm maak - ek het dit probeer en dit werk baie goed, glad nie koud geslaap nie.


    tussen Stockpoort en Mahalapye


    kamp in khama rhino sanctuary


    bokkies


    sonsondergang in Khama


    Khama se renosters


    Khama se renosters

    Vrydag 17de
    Om ongeveer 05:30 die volgende oggend begin daar in die kampterrein 'Morning has broken' speel. Ons word wakker en Hesca vra vir my of ek dit ook hoor, dis surrealisties. Die hele liedjie speel deur, al die versies - daar was 'n groot konvooi 4x4s wat ook die vorige aand ingekom het, en ek vermoed die 'snaakse' omie van die lot het besluit om sy hele kamp wakker te maak.

    Ons staan toe maar op, en nadat ons gestort het, het ons ontbyt geëet en ‘n bietjie gesit en lees. Later het ons gou Serowe toe gery om diesel in te gooi - P7.26 'n liter en nog vleis gekoop vir die volgende twee dae. Die middag kom 'n groep van 5 Landys met ou omies in daar aan, en soos elkeen verby 'n oopte in die bome om ons kamp ry waai hulle, en ons waai terug.
    Ons maak toe sommer vir middagete fillet in die pan op die gas saam met chilli sous op broodjies - baie lekker.

    Op pad terug van Serowe af het ons by 'n drankwinkel gestop om Chibuku 'Shake Shake' te koop - dis die plaaslike sorgum/mielie bier - P5 vir 1 liter boks. Toe ons vir die vrouens by die drankwinkel vra ons soek Shake-Shake bars hulle uit van die lag en vra - "YOU DRINK SHAKE SHAKE ?!?!". Ons sê toe nee - maar ons wil proe hoe dit smaak - hulle beduie ons toe na geboutjie verder af waar ons twee bokse koop deur 'n gat in die muur. Dit is heel moontlik die slegste pienk, vrotsige drek wat ooit gemaak is, mens weet nie of jy dit moet eet of dit moet kou nie, HURGHHH. Ons 4 het een boks gedeel en meeste weggegooi. Dit het my ook bietjie 'n ongemaklike maag gegee - gelukkig het ons imodium saamgevat.

    'n Rukkie voor sonsondergang gaan ry ons weer 'n draai oor die panne in die reservaat en sien 9 renosters, gemsbokke, springbokke en nog 'n paar ander diere. Ongelooflike mooi sonsondergang - as mens in die middel van die pan stop is die lug 360 grade reg rondom mens eers rooi, dan blou en dan pers.
    Sodra die son sak raak dit vrek koud, so skielik. Terug kamp toe, vuur aangesteek en ribbetjies gebraai en pap en sous op die gas gemaak.

    Terwyl ons om die vuur sit hoor ons wat klink soos 'n diertjie wat krap binne in die landy, voor by die enjin. Ons maak die enjinkap oop en probeer inlig, maar ook nie te naby kom nie - dalk is dit 'n slang. Ons hoor toe weer die geluid en dit klink soos 'n knaagdier se naels. Hy het natuurlik hitte kom soek by die lekker warm enjin - ons kon hom nie kry nie en het die enjin maar laat oopstaan deur die nag. Ek weet nie waar het die passasier afgeklim die volgende dag nie - moontlik losgeskud op die sinkplaat.

    Na al die skud op die sinkplaat dink ek die landy se naam is nou Chibuku - shake shake!


    Chibuku


    koop fillet in Serowe se spar


    perfek


    sit salig


    soek die diertjie wat in die enjinkompartement nesgeskop het


    lekker koud

    Saterdag 18de

    Ons staan so 07:30 op en eet koffie en beskuit en begin die kamp afslaan en op pak. Ons plan is om tot by Serule te ry deur Tsimo ea Pula en Ditauana - die pad is nie op die kaart nie, maar wel op Tracks4Africa op die GPS. Eerder so om ry as om weer dieselfde stuk teerpad van gister oor te ry. Die eerste stukkie gaan goed, dis nog teer tot by Tsimo ea Pula, maar toe word dit grondpad met erge sink op party plekke. Daar is orals bokke en donkies langs die pad en hier en daar bietjie ander landboubedrywighede.
    Altwee dorpies is netjies en skoon, maar die laaste ent se sinkplaat is baie erg en ons blaas ons wiele af na 1.8bar toe - dit help darem. Mens kan ook nie te vinnig ry om 'oor' die sinkplaat te probeer ry nie, want daar stap sommer net 'n donkie in die pad in, en 'n donkie staan waar hy staan, hy gee nie pad nie.

    By Serule aangekom pomp ons weer ons bande op by die garage - wat nie petrol of diesel het nie - gelukkig het ons nie gereken om daar in te gooi nie. Op die pad na Selebi-Phikwe is daar 'n 'vet-gate', om die bek-en-klouseer te beheer. Hulle kyk ons vleis in die koelhouer deur - ons kan alles hou wat vakuumverseel is, maar twee boktjops wat net in 'n polistireenbakkie met gladwrap oor is mag ons nie deur vat nie. Die man is vriendelik en baie jammer dat hy dit moet vat. Hy sê "Ehh, I think we must burn it, to destroy it" (Brand hom tot hy net mooi gaar is, en vernietig hom tot in jou maag in ja).

    Die pad verder is lank en reguit met 'n hoë dubbel heining op regs en elke 20km of wat 'n kamp waar die mens bly wat die heining moet onderhou. Voor Selebi-Phikwe koop ons drie bondels hout by 'n blinde man op 'n straathoek. Die dorp self is nogal groot en ons ry 'n draai deur die middedorp, baie winkels en netjies en skoon.

    Buite die dorp draai ons af na Bobonong toe, die laaste dorp met 'n winkel en diesel voor Tuli, die pad se skouer verbrokkel hier en daar en daar is ook 'n paar slaggate - die eerstes wat ons in Botswana teekom. Ons sien 'n paar aasvoëls in 'n boom sit langs die pad en ook kleinskaalse landboubedrywighede. Op Bobonong gooi ons nie Diesel in nie - daar is net een garage en die ry is baie lank. Suid van die dorp begin mens 'n paar koppies kry en die landskap verander, die pad is weer mooi en hulle werk hier en daar aan hom.
    Ons gaan deur 'n motorhek en ek sien op die GPS is dit nou groen - so ons moet nou binne in die Tuli wees, en sien ook gou olifantmis in die pad. Dis nogsteeds 'n provinsiale publieke pad. Al wat ons sien is 'n paar rooibokke en kom by die Lekkerpoet T-aansluiting aan waar ons links draai na Molema kampplek toe. Ek weet nie wie/wat Lekkerpoet was nie, ek vermoed dis Shakespeare - "He was a Lekkerpoet and wrote some lekker poems!".

    Ons kampplek is op die bank van die Limpopo - mens mag afstap in die rivierloop in tot by die water. Daar is eintlik net 4 kampplekke, maar daar was vroeer 5. Die 5de een is lank nie gebruik nie, weet nie vir watter rede nie, en hulle het hom vir ons oopgekap en reggemaak. Die ander 4 het elk sy eie toilet en stort en wasbak in so rietskerm - maar ons moes 'n chalet se geriewe gebruik, so 80m weg deur 'n klein beboste klofie. Ons staanplek het wel die beste uitsig op die rivier gehad, onder 'n massiewe Njala boom.
    Daar was 'n braaiplek en rooster, maar ons het sommer op die grond vuurgemaak met lekker dik mopani stompe - P20 vir 'n kruiwa vol. Daar is nie drade om die kamp nie, en daar is die groot vyf plus seekoeie en wildehonde en minus buffels in die Tuli.

    Ons maak 'n paar stukke rump gaar en Herman bak vir ons 'n potbrood. Daar is 'n groep Afrikaners op kampplek 4 wat raas, verdomde mense wat nie die betekenis van 'bos' verstaan nie. Hulle hoort eerder in 'n Aventura oord. Darem raak hulle later stil en ons kan gaan slaap met die geluide van die bos om ons.


    tussen Tsimo ea Pula en Ditauana


    wiele afblaas

    Sondag 19de

    Lekker laat opstaan soos die son ons wakkermaak - en dis nogal laat, want ons is in die koelte van die massiewe njalaboom. 'n Lekker koffietjie op gistraand se kole en 'n stukkie Bokomo beskuit.

    Die middag gaan ry ons 'n ent in Pontdrif se rigting. Die landskap is ongelooflik mooi, massiewe rotse met kremetartbome wat bo-op hulle groei. Ons sien orals tekens van olifante - mis en gebreekte takke, maar nie een olifant nie. Baie koedoes, rooibokke, steenbokkies en 'n jakkals.
    Mens ry deur die Motloutse rivier se loop - die 'hoofpad' loop deur hom. Ons stop toe in die middel en knak 'n biertjie - St Louis - wat 'n ongelooflike gevoel om stokalleen in die middel van 'n rivierloop te staan met Solomon's Wall se rotse aan die kante, sand noord en suid wat in die verte in strek en 'n paar rooibokke en vlakvarke wat die rivierloop oorsteek. Mens kry nie meer sulke goed in Suid Afrika nie (waarvan ek weet nie).
    Solomon's Wall is 'n rotsformasie - 30m hoog wat skuins oor die rivier gestrek het - en in prehistorise tye seker 'n groot dam gevorm het - sy middel is nou weggespoel maar die kante troon steeds bo mens uit op die walle van die rivier. Dit lyk regtig of 'n paar reuse die klippe opmekaar gestapel het en 'n muur/wal gebou het.

    Ons het 'n 1.3kg fillet in Serowe gekoop en maak hom die aand gaar. Wat 'n monster. Marius mag maar weereens fillet braai - ek sou dit nie so lekker kon maak nie, crispy aan die buitekant en sag en sappig binne. So 'n laaste fillet op ons laaste aand in Botswana. Daar was darem geen muskiete by die rivier nie, in die somer dink ek dra hulle jou lewendig weg.
    Ons pak solank op en in wat ons kan, stoele, tafeltjies, skottelgoed - sodat ons vinniger die volgende oggend kan wegkom.

    Hier by 11 uur hoor ons 'n luiperd grom/brul so ent van ons af, baie mooi maar tog vreesaanjaend - ons slaap op die grond - hy het darem nie kom ondersoek instel by ons tent nie. Dis darem nie so koud by Molema as wat dit by Serowe was nie, ons slaap salig.


    Tuli


    Tuli


    Tuli


    n bier langs die Limpopo



    Motloutserivier


    Motloutserivier


    Motloutserivier

    Maandag 20ste

    Vroeg opstaan en vinnig koffie maak op die vorige aand se kole wat nog warm is. Laaste paar goed word opgepak en ons pak die pad aan terug Suid-Afrika toe. Die pad is erg sinkplaat tot by die Platjan grenspos, ek weet nie wie Platjan was nie, dalk een van 'n paar neefs? Dikjan, Langjan en Platjan?
    By die grenspos is ons die enigste mense en dit gaan vinnig.
    Dis sleg om so 'n mooi en lekker land te verlaat, maar ook lekker om in jou eie land aan te kom. Nou dat ek daaraan dink, net hoe dit verskil - aan die Botswana kant se grens stap jy in 'n geboutjie in en praat oor 'n toonbank met die amptenaar. Aan die SA kant staan jy buite en praat deur glas met die amptenaar.
    Aan SA se kant sit die polisiemanne en kaart speel en gee nie eintlik om nie, aan die Botswana kant is daar wel geen polisie nie.

    Die grondpad tot op Alldays is goed, min sinkplaat en kan darem tussen 80 en 100 ry. Toe ons by die T-aansluiting stop klim en uit en sien dat een sak waarin die een deel van ons tent is nie meer op die dak is. Ek radio vir Marius in die landy agter ons en hy sê hy het 'n sak in die pad sien lê so 3km terug, ons draai toe om en gaan soek hom, en kry hom gelukkig.

    Die pad van Tom Burke af tot by Potgietersrus is al die pad mooi, maar Potgietersrus voel meer soos 'donker Afrika' as wat Botswana voel.

    Botswana sien ons volgende jaar weer - Central Kalahri en in 2013 Chobe en Moremi en op tot in Kafue. Botswana is 'n ongelooflike land, min mense, vleis en diesel is goedkoop, die mense is vriendelik, dinge gebeur en werk - ek dink SA het baie om te leer by hulle.


    Platjan
    Last edited by ProtZkroG; 2011/09/20 at 10:04 AM.

    2001 Land Rover Defender TD5 110

  2. #2
    Join Date
    Sep 2006
    Location
    Pretoria
    Age
    69
    Posts
    2,339
    Thanked: 705

    Default

    Die Tuli omgewing lyk baie mooi, ek was nog nie daar nie. Gee asb. meer inligting oor die Molema kampplek en dalk waypoints as jy het. Ek het nie geweet daar is kampplek nie, het altyd gedink daar is net duur lodges. Sal verseker volgende keer daar 'n draai maak.

  3. #3
    Join Date
    Jan 2010
    Location
    Pretoria-Oos
    Age
    40
    Posts
    833
    Thanked: 0

    Default

    sien www.molema.com

    hy word aangedui op Garmap en Tracks4Africa

    2001 Land Rover Defender TD5 110

  4. #4
    Join Date
    Jan 2009
    Location
    Centurion
    Age
    48
    Posts
    56
    Thanked: 0

    Default

    ek is jaloers, sal def draai gaan maak.
    Defender 110 Puma
    BMW 320i
    Yamaha XT660z
    Gautrain

  5. #5
    Join Date
    Jan 2010
    Location
    Lexington, KY
    Age
    56
    Posts
    10,365
    Thanked: 11270

    Default

    Sjoe, dit laat my verlang. Phikwe was my tuiste vir 4 jaar en ons het baie in die Tuli blok rondgery, vriende van ons het grond besit langs die Limpopo met 'n klein kamp, ons was ten minste een keer elke ses weke daar! Khama was 'n ander een van ons gunsteling wegbreek plekke.

    Dalk sien ons jou volgende jaar in die CKGR, ons gaan in April.
    Christa

    2018 Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4x4 AT - sold

    Bushlapa 78 - sold

  6. #6
    Join Date
    Jan 2010
    Location
    Pretoria-Oos
    Age
    40
    Posts
    833
    Thanked: 0

    Default

    Ons gaan van 31 Maart tot 7 April in CKGR wees

    2001 Land Rover Defender TD5 110

  7. #7
    Join Date
    Jan 2010
    Location
    Lexington, KY
    Age
    56
    Posts
    10,365
    Thanked: 11270

    Default

    Ons is van 20-24 April daar.
    Christa

    2018 Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4x4 AT - sold

    Bushlapa 78 - sold

  8. #8
    Join Date
    Aug 2010
    Location
    Krugersdorp
    Age
    57
    Posts
    1,895
    Thanked: 3

    Default

    Baie Nice, dankie
    VW AMAROK V6
    Land Rover Defender Td5

    Land Rover Discovery 4 V8 HSE (Swambo)

  9. #9
    Join Date
    Sep 2006
    Location
    Pretoria
    Age
    69
    Posts
    2,339
    Thanked: 705

    Default

    Baie dankie vir die link na Molema, my T4A vir Botswana is oud so ek sal die nuwe een koop. Geniet CKGR, wonderlike plek. Jammer Tau pan het nie meer kampering nie, dit is baie mooi daar maar die ander plekke is ook lekker.

  10. #10
    Join Date
    Feb 2011
    Location
    Harties
    Age
    40
    Posts
    148
    Thanked: 11

    Default

    Hi..Dankie vir die moeite met die verslag.. nice..skoon jaloers sien uit na CKGR in 2012..groetnis
    "Jaag elke avontuur met n Hart wat gelowig klop"

    2008 Land Rover Puma 90 - sold
    2003 Land Rover Disco 2 Td5 - sold
    1972 Land Rover Series 3 88'' - investment
    2011 Land Rover Puma 110 - SWAMBO daily
    1966 Land Rover Series 2a 109" diesel - investment

  11. #11
    Join Date
    Jan 2010
    Location
    Pretoria-Oos
    Age
    40
    Posts
    833
    Thanked: 0

    Default

    Hier is ons skedule vir CKGR:

    31-Mar-12 Khutse
    1-Apr-12 Xaxa
    2-Apr-12 Xade
    3-Apr-12 Xade
    4-Apr-12 Kori
    5-Apr-12 Kori
    6-Apr-12 Deception
    7-Apr-12 Deception
    8-Apr-12 Khama

    wanneer is julle daar?

    2001 Land Rover Defender TD5 110

  12. #12
    Join Date
    Dec 2009
    Location
    Delmas
    Age
    65
    Posts
    11,827
    Thanked: 1324

    Default

    Bly julle het Khama Rhino geniet - ons het ook. Sal weer daar gaan kamp.

    CKGR - pragtig - julle moet dit geniet.

    Tuli - die gaan ons nog besoek
    Elize
    en ry saam met SarelF in
    4x4 Isuzu NPS 300 met kamper
    Kyk gerus by www.blinkgatproducts.com
    Vir enige aluminium produkte,canopy's, campers kontak gerus
    Sarel 0828209413

Similar Threads

  1. Ranger Replacement, the T6
    By Scrat in forum Ford & Mazda
    Replies: 254
    Last Post: 2014/04/24, 06:35 PM
  2. Botswana July 2011
    By Roxal in forum Botswana
    Replies: 20
    Last Post: 2013/01/04, 03:12 PM
  3. Replies: 10
    Last Post: 2012/06/11, 12:02 PM
  4. Super rugby log ?
    By duncang in forum The 4x4 Pub
    Replies: 11
    Last Post: 2011/02/17, 09:22 AM
  5. Botswana Dec 2011
    By Landy110addict in forum Botswana
    Replies: 7
    Last Post: 2011/01/13, 10:33 PM

Bookmarks

Posting Permissions

  • You may post new threads
  • You may post replies
  • You may post attachments
  • You may edit your posts
  •